Ek en Gerhard is mal oor vakansie. As die een vakansie einde toe staan, dan begin ons dink aan die volgende een. Ek spot altyd vir Gerhard, as ek skielik meeting requests kry wat my uitnooi na vakansieplekke dan weet ek hy het `n moeilike dag by die werk gehad. Ons was nog nie orals nie, maar dis op ons lys. Ons is die laaste paar jaar creatures of habit en ons hou in George en omgewing vakansie, dis die enigste manier om die teenagers sinvol besig te hou. Dit het so 5 jaar terug begin met Liam wat met alles in sy wese Heroldsbaai toe wil gaan vir vakansie, ons offer eksotiese bestemmings soos Viëtnam of Bali, Luka skree Jaaaaa, Liam sê asseblief nie.
Die tipe vakansie was lekker toe ons net Heroldsbaai toe moes ry. 1 000 steps ver van die strand af teen die bergpas moes parkeer en die dag op die (naaste) strand kon spandeer. Nou voel ek soos `n taxi. Liam se vriende, known as ‘die manne’ is oral oor die tuinroete gespasieer. Voel of ons `n area moet dek van Mosselbaai tot Plettenbergbaai. As die manne die dag op Hartenbos uithang, dan is die van Rooyens op Hartenbos. As die manne op Herolds is, dan is die van Rooyens daar. Tussen Heroldsbaai, Hartenbos en Klein-Brak dek ons nogal `n wye spektrum van strande, maar as die teenagers die dag nie lus is vir enige iets nie kan jy met hulle toor. Ons wil vandag die son en die strand vermy, ons wil erens gaan middagete eet aangesien ons op daai stadium tussen Kersfees en Nuwejaar is waar niemand regtig meer lus is vir leftover Christmas skaapboud en trimmings nie. Liam en Luka kan nie verstaan hoekom mens so ver wil ry net vir middagete nie. Die twee sal elke dag eerder KFC kies as actual kos bedien in`n bord met messe en vurke.
En dis vir die rede dat ek en Gerhard nou een keer`n jaar op ons eie vakansie hou. In 2023 was ons Europa toe, in 2024 was ons in `n mobi lodge in die Wildtuin,`n proeflopie vir 2025 se trip Botswana toe. Op die vakansies rol niemand (nie ek of Gerhard) ons oë vir enige iets nie. Ons trek nie ons neuse op vir perfectly good leftovers nie. Ons demand nie eers een keer wifi of hotspots nie, ons stort nie vir 20 minute lank en sit ons (lang) hare op die vloer en kam met vreeslike maskers in nie.
Ons staan op en eet ontbyt, ons besluit nie eers 10 uur in die oggend op die strand ons is in fact rasend van die honger en staan in lang rye saam ander Gautengse teenagers om olierige chipstix te eet nie. Daarna moet ons nie soveel Reaccutanne drink omdat ons lyk of ons nog nooit ooit ons gesigte gewas het nie. Ons trek ons klere soms meer as een keer aan, so na `n lang dag op die strand, of op `n wildrit, na `n vinnige stort en skoon klere, trek ons more weer daardie skonerige klere aan om strand toe te gaan.
My tien top tips vir surviving vakansies met tieners:
Ry met twee karre tuinroete toe. Niemand gaan mekaar op die agtersitplek aanrand nie. Almal het `n business class seat in die voorste ry en kan in vrede hulle ore prop met hulle oorfone en kan hulle vreemde musiek luister, slaap, snack en hiberneer.
As jy `n nuwerige kar het, met wifi, laai maar `n lekker data bundle op. Die kind in jou kar gaan (ten spyte van menige versoeke) vergeet om by die huis (op die wifi) movies te download en op daai stuk tussen niks en die Karoo gaan jou pasasier super verveeld wees sonder movies of tiktok.
Maak nie saak hoeveel chewing gum jy koop nie, dis nie genoeg nie, laai maar twee groot houers per kar in. Teenagers wat wakker is se kakebene moet beweeg of hulle kom tot `n algehele stilstand.
Huur `n huis met `n moerse wasmasjien en tuimeldroër. Jy gaan wasgoed was dat jy hoes, jy werk in Sandton en is nie elke dag by die huis om die sirkus te sien van klere nie. Sekai verdien `n increase - ek sal nie elke dag met die cope nie. Tieners klim uit pajamas (waarin net een keer geslaap word) uit in oefenklere, in skoon klere vir die strand, in swemklere op die strand, in skoon klere na die strand, in skoon pajamas na die skoon klere. O ja, en die swemhandoek en badhandoek gaan albei vir lank in `n bondel in die badkamer lê so pak ook ten minste vier handoeke per persoon.
Pak liters en liters sonroom in, dis die sonroom vir die volgende jaar, want al gaan jy in elke kind se handsak, strandsak en rugsak twee tipes sonroom sit (gesig en lyf), gaan hulle as jy gelukkig is net een keer per dag smeer. Vannaand is hulle pienk, maar hulle gaan ook vir jou vertel hulle is geseënd met sterk velle, dit terwyl jy graag vir hulle die velkanker scar op jou wang wys, tieners is bulletproof, hulle brand gelukkig nie.
Pak liters en liters after sun in. Sien bo. Voltarin gel werk ook baie goed vir sonbrand. Ek weet.
Wees geduldig, as die son die eerste keer in `n week skyn en jou teenager was lanklaas in`n mall, gaan jou teenager op die eerste dag na die Kersfees vakansiedae wil mall toe, of die son nou skyn of nie.
Vat cash. Maak nie saak dat jy elke jaar vra of alles wel gepak is nie, jou teenager gaan sonder `n bankkaart vakansie kom hou, ek dink dis deels `n ploy om nie hulle eie geld te gebruik vir roomys en chipstix nie, ek laat weet as ek meer inligting oor die ene het.
Vat ziplock sakke saam op vakansie. Aangesien teenagers meestal weier om leftovers te eet maak dit dit makliker om die leftovers te identifiseer om op die strand te eet (net die ouers). Ek het die vakansie al bondeltjies leftover kaas van die snack platters geeët, tamaties, patties, dit alles terwyl die kinders in `n ry tot in die Karoo staan en brand in die son (sien 5 bo) en betaal met (my) cash vir olierige chipstix en waterige roomys (sien 8 bo).
Koop blikkies koeldrank, niemand op vakansie drink twee keer uit dieselfde glas uit nie en aangesien jy reeds so baie wasgoed was is daar wragties nie nog tyd om skottelgoed ook te was nie.
Lekker vakansie hou, Geseënde Kersfees, Voorspoedige Nuwe Jaar. Ek kan nie lank praat nie, ek het wasgoed in die masjien.
Comments